08:00 Vrydag oggend het ek en Lisa vir Tiaan & Narise by Irene Dairy Farm ontmoet vir hulle verlowing fotosessie (E-shoot / Couple shoot). Die plaas was rustig met hier en daar ‘n werker wat rond geloop het. Die koeie het rustig in die veld gewei en die hoeders het nog gekraai.

Die ys is gebreek by die fonteintjie waar Tiaan en Narise diep in mekaar se oë gekyk het en bietjie kon vergeet van tyd, trou reelings en werk. Narise met haar vleiende vintage rok het baie mooi gelyk saam met die ou geboue, “barn”-gevoel, romantiese dammetjie onder die groot bome en saam met die man van haar hart – Tiaan. Ons het baie lekker gelag vir Tiaan wat die swaan na gemaak het, Lisa wat in die beesmis getrap het, die lekkende kalfie en vir die wol-blom-sade-iets-wat-ons-nie-weet-wat-dit-is wat nie soos confetti wou werk nie…

Irene Farm het weereens gesorg vir ‘n weie verskeidenheid foto’s met hulle bome, groen grasvelde, geboue, beeste en swaai. Die meer formele klere het plek gemaak vir ‘n lekker denim broek en Tiaan en Narise was in hulle noppies. Wat anders kan mens verwag van ‘n plaasmeisie van Rustenburg? Die beeste en plaas gevoel het hulle laat terug dink aan hulle verlowing op Narise se ouer plaas – in die natuur, tussen die beesmis – waar sy die eerste keer die ja-woord gegee het…

Tiaan & Narise dit was ‘n voorreg om julle foto’s te neem en die liefde te kon ervaar wat tussen julle is. Die tyd kan nie gou genoeg nader kom na julle troue nie!
Sterkte met die laaste reelings en geniet die foto’s!

Groete,
Vonmari

Troue: 23 November 2013 – Makinky Manzi, Rustenburg